Hond byt kind, so vrou moet betaal

Beeld 28 Sep 2016 Jeanne Marié Versluis

Die “word-gou-gesond”-kaartjie en sjokolade wat ’n honde-eienaar gestuur het aan ’n agtjarige seun wat gebyt is, kon nie die gewone vrygewigheid van ’n barmhartige Samaritaan gewees het nie.

Monica Phuti Selane van Boksburg het ook uitgevra oor die seun se toestand en beplan om hom in die hospitaal te besoek.

Tog het sy die eis teengestaan wat die seun se ma teen haar ingedien het weens die skade wat hy in ’n honde-aanval opgedoen het. Selane het self getuig sy het met die seun se gesin probeer praat om hulle met sy mediese koste en sorg te help.

Haar optrede was eerder dié van iemand “wat gedryf is deur ’n gevoel om te vergoed of verantwoordelikheid te aanvaar”, het die hooggeregshof in Pretoria in sy uitspraak gesê.

Selane sou nie so ver gegaan het as sy waarlik nie aanvaar het dat dit haar honde was wat die seun aangeval het nie.

Die seun se naam kan nie genoem word nie omdat hy ’n minderjarige getuie in die saak was.

André van der Westhuizen van die regsfirma Gert Nel Ingelyf in Pretoria wat namens die seun se ma optree, sê in dié stadium word R600 000 geëis, maar dit kan dalk verminder word.

Hy sê die seun, wat destyds agt jaar oud was, het letsels van die aanval, maar is nie verskeur nie.

Die geding om die omvang van die skade te bepaal moet nog plaasvind.

Die seun moet deur ’n plastiese chirurg en ’n sielkundige ondersoek word.

Hy het op 6 Januarie 2013 saam met ’n maatjie voor Selane se huis in Dawnpark, Boksburg, gestap. Die seun se gesin woon ’n paar huise van daar af.

Die seun het getuig ’n motor het by Selane se hek stilgehou terwyl hulle in die straat gestap het. Selane se dogter het die hek vir die motor oopgemaak.

Die seun se maatjie het gehardloop.

Die meisie het aan hom (die seun) gesê om nie te hardloop nie, want die honde sal hom jaag.

Die twee honde het egter uitgekom en hom aangeval.

Selane se dogter het die hek agter die motor toegemaak en die honde buite gelaat, het die seun getuig.

Volgens die seun “was die swart hond groter as die wit een wat baie hare gehad het”.

Hy het getuig dat hy elke dag voor Selane se huis verbyloop op pad skool of winkels toe.

Die hof het bevind Selane moet die seun se ma vergoed vir die skade wat sy kan bewys.