Written by prof. Hennie Klopper | published on 26 November, 2024 | Maroela Media
Elke keer wanneer jy jou motor volmaak, is ʼn deel van jou betaling ʼn reddingsboei vir padbotsingslagoffers – of ten minste, dit behoort so te wees. Suid-Afrikaners dra ongeveer 40% van die totale huidige brandstofheffing by tot die Padongeluksfonds (POF) – ʼn fonds wat bedoel is om mediese en finansiële vergoeding aan slagoffers van padverkeerbotsings te verskaf.
Ten spyte van hierdie aansienlike openbare bydrae, is die POF in ʼn finansiële en operasionele krisis vasgevang, wat slagoffers tot agt jaar laat wag vir vergoeding. Die werklikheid van hierdie vertragings is nie net ʼn burokratiese ongerief nie – dit is ʼn direkte aanslag op kwesbare mense. Slagoffers ly as gevolg van onbehandelde beserings, verergerende mediese toestande en toenemende finansiële laste.
Intussen vervaag die publiek se vertroue in die POF omdat POF-leierskap hul verantwoordelikheid ontwyk en geen tasbare oplossings bied nie. Hierdie is nie meer net ʼn beleidsmislukking nie; dit is ʼn morele en maatskaplike krisis wat onmiddellike optrede vereis.
Redding van lewens, vermindering van koste
Suid-Afrikaanse paaie is van die gevaarlikste ter wêreld. In 2023 alleen is meer as 12 000 padsterftes aangeteken, waarvan ʼn astronomiese 40% voetgangers is. Volgens ʼn onlangse ministeriële verslag, ontwrig padongelukke jaarliks miljoene se lewens en kos dit die ekonomie R200 miljard.
Hervorming moet die versterking van padveiligheidsveldtogte insluit, die verbetering van infrastruktuur soos voetganger-oorgange, en die strenger toepassing van verkeerswette. Bewese internasionale maatreëls om menslike foute te verminder en wetstoepassing te bevorder, kan ook help om ongelukke te verminder. Die voorgestelde AARTO-wet moet verder gaan deur te verseker dat oortreders aangekeer word, padveiligheidsbewustheid bevorder word en bestuurders aanspreeklik gehou word.
Behalwe om lewens te red, sal sulke hervormings die POF se finansiële las verminder deur eise te verminder. Minder padverkeerbotsings beteken op sy beurt weer meer hulpbronne vir slagoffers wat werklik ondersteuning nodig het. Dit kan uiteindelik selfs die impak van die huidige brandstofheffing op bestuurders verlig.
Hersiening van stelsel
Die POF se onvermoë om eise doeltreffend te verwerk, het huidig meer as 104 000 slagoffers van die nodige bystand beroof. Van 107 000 eise wat in 2022/23 ingedien is, is minder as 3 000 verwerk. In plaas daarvan om voor die hand liggende sake vroegtydig te besleg, word slagoffers dan gedwing om op duur litigasie staat te maak. POF-ondoeltreffendheid het die gemiddelde waarde per eis sedert 2020 met 20% verhoog, wat die POF se finansiële ellende verder vererger.
Mites en valse inligting
Die POF-leierskap blameer dikwels die regs- en mediese professies vir toenemende kostes terwyl hulle eie beleid die eintlike probleem is. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die onwettige Raadskennisgewing 271, wat aansienlike uitgebreide mediese regsdokumentasie-vereistes van eisers vereis.
Hierdie vereistes skep vir slagoffers aansienlike bykomende finansiële en prosedurele hindernisse, van wie menige nie die hulpbronne het om daaraan te kan voldoen nie. Daar word byvoorbeeld van beseerde individue verwag word om verskeie spesialiste te raadpleeg, uitgebreide verslae in te dien en herhaalde evaluasies te ondergaan – prosesse wat beide duur en tydrowend is.
In plaas daarvan om toegang tot vergoeding te vereenvoudig, verhoed hierdie kennisgewing eintlik geregtigheid van diegene wat dit die nodigste het. Kwesbare eisers wat nie aan hierdie moeilik-voldoenbare eise kan voldoen nie, word dikwels gedwing om hul eise óf te laat vaar óf geheel en al afhanklik te wees van regslui wat op ʼn gebeurlikheidsbasis werk. Regspraktisyns finansier nie net eise nie, maar verleen bystand om die onnodige komplekse stelsel te kan hanteer, net om te verseker dat hulle ʼn kans op geregtigheid het.
Die versuim om eise vóór verhoor af te handel, vererger die finansiële gevolge. Soos sake vorder, styg rente en regskoste aansienlik – wat jaarliks onderskeidelik R2 miljard en R3 miljard beloop. Die ware oorsaak van die immer-stygende koste en krisis van die POF is dus sy eie ondoeltreffendheid, en nie die bystand van slagoffers nie.
Menslike koste
Vir slagoffers is die POF se mislukkings ʼn saak van oorlewing. Sonder tydige vergoeding kan vele nie noodsaaklike mediese sorg bekostig nie, wat weer tot verslegtende mediese toestande en hoër koste aanleiding gee. Gesinne van afgestorwe broodwinners staar langdurige finansiële swaarkry in die gesig, en wag dikwels jare vir uitbetalings wat hulle armlastigheid vererger.
Tragies genoeg sterf sommige slagoffers voordat hulle enige vergoeding ontvang het, wat dan onafgehandelde eise agterlaat en wat hul gesinne beide emosioneel en finansieel verwoes.
Finansiële lewenslyn
Die POF se algehele aanspreeklikheid oorskry R500 miljard wat by verre sy jaarlikse inkomste van R46 miljard uit die brandstofheffing oortref. Ten spyte van aansienlike openbare befondsing, sukkel die POF steeds met sporadiese betalings, versuim om aan hofsake aandag te gee en altyd groterwordende agterstande. Verstekvonnisse teen die fonds wat sy finansiële lewensvatbaarheid verder vererger, neem steeds toe.
Terwyl ʼn staatsreddingsboei dringend nodig is, moet dit streng aanspreeklikheidsmaatreëls insluit. Leierskaphervormings, omvattende oudits en deursigtige verslagdoening is noodsaaklik om te verseker dat so ʼn reddingsboei sy doel bereik.
Samewerkende oplossings
Die POF se herstel vereis ʼn veelsydige benadering:
- Padveiligheid en wetstoepassing: Belê in maatreëls om ongelukke en sterftes te verminder, wat eisgetalle mettertyd verlaag.
- Bedryfsdoeltreffendheid: Vestig ʼn “skikkingsentrum” om eenvoudige eise te versnel en litigasiekoste te verminder. Stel opgeleide regskundiges aan om eise doeltreffend te kan hanteer.
- Finansiële hervorming: Bekom ʼn reddingsboei van die regering met streng kontroles om aanspreeklikheid te verseker en toekomstige krisisse te voorkom.
- Regsbelyning: Herroep beleid soos Raadskennisgewing 271 en verseker nakoming van hofuitsprake wat slagoffers se regte bevestig.
Hierdie oplossings vereis politieke wil, geregtelike toesig en samewerking met alle belanghebbendes.
ʼn Oproep tot aksie
Die POF se mislukkings is nie net ʼn saak van ondoeltreffendheid nie – dit is verraad van Suid-Afrikaanse burgers wat die fonds vertrou om geregtigheid en waardigheid aan padverkeerslagoffers te lewer. Dit is tyd vir nasionale verantwoord-doening. Burgers moet aanspreeklikheid van die POF en sy leierskap eis.
Deur die hoofoorsake van hierdie krisis die hoof te bied en betekenisvolle hervorming, kan die POF se regmatige mandaat en openbare vertroue herstel word. Die pad vorentoe is ongetwyfeld uitdagend, maar die gevolge van ʼn gebrek aan optrede is veel groter.
Suid-Afrika verdien ʼn Padongeluksfonds wat sy mense met doeltreffendheid, deernis en integriteit dien. Die tyd om op te tree is nou.
- Professor Hennie Klopper is ʼn emeritusprofessor in die departement privaatreg aan die Universiteit van Pretoria en ʼn regspraktisyn by HB Klopper Prokureurs in Pretoria. Prof. Klopper is ʼn bekende kenner in derdeparty-vergoedingsreg asook die outeur van belangrike werke, insluitende “The Law of Third-Party Compensation in South Africa” en “RAF Practitioners Guide”.